Day: September 15, 2015

Peter Clarke se Tesselaarsdal

Die geskiedenis van Tesselaarsdal strek terug na 1810, toe die eiendom aan al die plaasmense bemaak is. Die pas gestigte Tesselaarsdal Aksie-Groep (TAG) wil dié gebeurtenis ná 200 jaar feestelik herdenk om die unieke erfenis van die gemeenskap te herbevestig.
Die gebied, oorspronklik bekend as Hartebeestrivier of Plaas 811, wat nou in 487 erwe verdeel is, dateer van 1663, toe die Nederlandse setlaars deur die Gantouw-pas oor die Hottentots-Holland-berge die Overberg binnegetrek het.
Die gesiene Johannes Jacobus Tesselaar, ’n luitenant in die Kaapse kavallerie, het Hartebeest­rivier in 1781 en Steensboksrivier (nou Dunghye Park) in 1783 op bruikleen van die Kompanjie verkry. Hy het met vee geboer en perde geteel. Veertien manlike en vier vroulike slawe het vir hom gewerk.
Hy was 35 jaar oud toe hy begin boer het en was met Alida (Aaltje) van der Heyde (Heijden) getroud. Hulle was kinderloos. Verskeie testamente is tussen 1775, kort ná hul troue, en 1809, ’n jaar voor Tesselaar se dood, opgestel.
In 1809 het die 61-jarige Tesselaar twee keer sy testament verander waarin hy eers groot bedrae geld aan individue bemaak het, asook die plaas Hartebeestrivier aan die susters Elizabeth, Alida, Aletta en Christina Heizenberg (Hysenberg) en ’n tweeling, Barend en Jan Frederik Bredenkamp.
Volgens die Geslagsregister van Ou Kaapse Families (De Villiers en Pama) was ene Maria Heizenberg van gemengde bloed en die moeder van die buite-egtelike Bredenkamp-tweeling (hul vader was Jan Frederick Bredenkamp). Vandag word algemeen aanvaar dat die vier susters wat in Tesselaar se testament genoem word, sy buite-egtelike kinders by Maria was.
Ses maande later het Tesselaar weer ’n verandering aan sy testament aangebring: Hartebeest­rivier is toe bemaak aan Joggom Koert, Gert Gertse, Jan Gertse, Barend Bredenkamp en Jan Frederik Bredenkamp, asook aan die reeds genoemde vier Heizenberg-susters. Ná hul dood moes dit na hul nageslag gaan. Die 14 slawe is onder die erfgename verdeel.
Tesselaar se weduwee, Aaltje, het die plaas tot haar dood in 1832 bestuur. Luidens haar testament is groot bedrae geld aan individue bemaak, onder wie die werkers. Alle slawe is vrygestel, en diegene onder 15 jaar moes onderwys ontvang. Die res van die grond is aan twee broerskinders van Tesselaar bemaak .
Van die nege erfgename het slegs die Bredenkamps hul toegekende grond wettig vir verdeling aan hul nageslag deurgegee. Die ander het getrou en geboer sonder om grense van grondbesit neer te lê. Joggom Koert en Alida Heizenberg het getrou, en een van hul dogters, Helena, is later met Hendrik Julies van Swellendam getroud. Hul dogter Louisa het in die Carelse-familie ingetrou, wat vandag nog ’n gedeelte van die plaas besit.
Baie families het hulle deur huweliksverbindings as wettige aanspraakmakers op die plaas gevestig. Onder die bekendste families tel Groenewald, Fourie, Tier, Carelse, Stewart, Julies, Gardener, Conradie, Willemse, Abrahams, Swart, Geldenhuys, Matthee, Olwagen, Tobias, Avontuur, Smal, Du Toit, Wyngaard en Nigrini.
In die 20ste eeu is twee kerkgenootskappe op die plaas gevestig: die NG Sendingkerk (vandag die Verenigende Gereformeerde Kerk) en die Anglikaanse Kerk. Daar is ook ’n laerskool gebou.
Soos dit die gebruik was, het die inwoners meestal in hul eie lewensbehoeftes voorsien, terwyl rondreisende smouse die gebied bedien het. Daar is per perdekar na Caledon gereis. Die uitspanning was op Dunghye Park, ’n halfwegstasie. Vakansies is op Hawston en Stanford deurgebring.
In 1930 is ’n poskantoor opgerig, en Hartebeestrivier het Tesselaarsdal geword ten einde verwarring uit te skakel met ’n plaas in dieselfde distrik wat reeds ’n posdepot was. Pos is weekliks met die perdekar na Tesselaarsdal gebring, maar later per motorvoertuig. In die 1960’s is die poskantoor gesluit. Die murasie staan nog daar, en die gemeenskap wil dit nou restoureer sodat dit as museum ingerig kan word.

Peter Clarke, in 1929 in Simonstad gebore , het in 1953, nadat hy as dokwerker in Simonstad bedank het, besluit om heeltyds te skilder. Hy het drie maande lank op Tesselaarsdal gewoon, dit “die plek van my hart” gevind en noukeurig die gemeenskap en sy aktiwiteite in sy kunswerke vergestalt. Ook het hy verskeie kortverhale oor die plek en sy mense geskryf. Dit is onder meer in die literêre tydskrif Contrast en die tydskrif Drum gepubliseer.
In ’n dagboek-aantekening, met die opskrif “Winter shepherding”, vertel Clarke van ’n wintersbesoek en hoe hy met ’n skaapwagter, Dickie Wyngaard, bevriend was. Hulle het onder meer saam land geploeg. Dit is opgeneem is die monografie More than Brothers (Kwela, 2000) oor Clarke en James Matthews. Hein Willemse was die redakteur.
In later jare het Clarke Tesselaarsdal gereeld besoek en ook skrywersvriende saamgebring. Onder hulle tel James Matthews, Richard Rive en Gladys Thomas, asook die fotograaf George Hallett. Rive het ’n kortverhaal,“No Room at Solitaire”, geskryf nadat hy en Clarke die gebied per motorfiets besoek het.
Tesselaarsdal (in die volksmond Teslaarsdal) was ’n ryk bron van inspirasie vir Clarke, wat van sy werk ook in buitelandse tydskrifte laat publiseer het. Van sy kunswerke van die plek was reeds in die 1960’s op internasionale tentoonstellings.

Clarke het Tesselaarsdal onlangs nog besoek. Hoewel hy gevind het dat die plek baie verander het en van die ou geboue nou in puin lê, het hy met dieselfde entoesiasme van weleer vertel hoeveel die plek en die gemeenskap vir hom beteken. Vir hom bly dit ’n plek van die hart.
Hy was reeds vroeg een van die kunstenaars wat deur sy werk teen die onreg van apartheid geprotesteer het.
Maar Tesselaarsdal was anders as die res van die land, want dié gebied, waar wit en bruin reeds 200 jaar vreedsaam naas mekaar gewoon het, was straks die enigste waar die Groepsgebiedewet nie ’n vastrapplek kon kry nie. Clarke het dié wetgewing in 1974 aan die lyf gevoel toe hy gedwing is om uit sy geboorteplek, Simonstad, na Oceanview, waar hy steeds woon, te skuif.
’n Aansoek van 1971 in die Kaapse Hooggeregshof deur die Caledonse afdelingsraad dat eienaarsregte tussen blank en bruin verklaar moes word sodat Hartebeestrivier (Tesselaarsdal) van 2596,0166 morg verdeel kon word, is geweier. Die doel was dat eienaars se akte van eiendom vir belastingdoeleindes opgeneem kon word.
In sy uitspraak het regter Helm van Zijl gesê dat “die ras van persone wat ’n saaklike reg in Tesselaarsdal het, .?.?. geen betrekking” kan hê nie.
“Daar is geen grondslag waarop die Afdelingsraad kan steun om te vra dat hierdie hof die ras van die ‘belanghebbendes’ in Tesselaarsdal moet bepaal nie.”
Die regter het verder gesê die eienaars het die reg om hul eiendom “in onverdeelde aandele te besit”.
In wese en in die praktyk het dit beteken dat die uitspraak die status quo van Tesselaarsdal as gemengde gebied gehandhaaf het. Altesame 128 mense – 87 bruin en 41 wit – het aanspraak op die grondgebied gemaak.

In latere jare is die eienskap van die verdeelde gebied bepaal in ’n proses wat tien jaar geduur het.
Armoede bedreig baie inwoners in ’n sukkelbestaan, en hulle val soms gewetenlose kopers ten prooi wat hul geboortereg opkoop.

argief/berigte/dieburger/2010/01/23/By/15/PETERCLARKE.html